Uit "Die Vlakte" deur JAN F.E. CELLIERS [boodskap #46588] |
Sun, 15 July 2001 11:53 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
Uit Die Vlakte
Jan. F. E. Celliers
Soos 'n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
kom 'n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot 'n stapelblou
van marmer wat krul en leef -
kolossaal monument op sy swart fondament,
waar die bliksem in brul en leef.
En o, met my is die windjies bly:
hul spring uit die stof orent
en wals en draai en dwarrelswaai
oor my vloer, van ent tot ent;
die gras skud hul wakker om same te jakker,
tot hy opspring uit sy kooi
en soos mane en sterde van jaende perde
sy stingels golf en gooi.
Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
kom die eerste druppels neer,
en dit ruis alom so deur die gebrom
en gekraak van die donderweer.
Met kloue vooruit om te gryp en buit
jaag 'n haelwolk langs verby,
soos 'n perde-kommando wat dreun oor die lande
vertrap en gésel hy -
en sy lyke-kleed sien ek ver en breed
in die awendson gesprei.
|
|
|